Excerpt for Ek Onthou - Boek 3 - Onthou om te onthou: Die reis duur voort by , available in its entirety at Smashwords

This page may contain adult content. If you are under age 18, or you arrived by accident, please do not read further.




Onthou om te onthou:


Die reis duur voort





Andri Nieuwoudt













Outeur: Andri Nieuwoudt


Omslagontwerp: Andri Nieuwoudt

Met groot dank aan Helena Crafford vir die belangrike proeflees

Geset in Times New Romans 12pt


Alle regte voorbehou

Kopiereg © Andri Nieuwoudt


ISBN 978-1-928413-93-6


Eerste Uitgawe 2018



Hierdie boek mag nie sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat bandopname, mikrofilm of enige ander stelsel van inligtingsbewaring.


Uitgegee en gedruk deur

Malherbe Uitgewers







Inleidend


Die reis wat begin het in die stofstrate van ‘n klein myndorpie op die Noordwes grens van Suid Afrika het gelei deur die opleidings eenhede van die Universiteit van Stellenbosch en eers ‘n jong geneesheer uitgespoeg en later na ‘n kort rondreis deur die platteland van Suid Afrika en Suidwes Afrika, ‘n ginekoloog. Die het sy heenkome in Somerset Wes bevind waar hy gesin gebou het, pogings aangewend het om te vestig as Ginekoloog in privaat praktyk, maar tog gedwonge gevoel het om uit te beweeg in die groot onbekendheid van Nederland. Hierdie is ‘n omvang van hierdie laasgenoemde reis. Die voorbereiding as mens was in Namakwaland – die onderwerp van die eerste van die trilogie boeke, die tweede boek vul die voorbereiding as arts en ginekoloog aan.

Die reis is nog nie voltooi nie, en duur voort in hierdie derde deel tot en met die ingaan van pensioen.








Opgedra aan Danette


Hoofstuk 1
Die Jare van belangrik (probeer) wees:



Dit was so na die tweede jaar wat ek hier was wat my oriëntasie van die vak wat ek moes beoefen my fokus punt laat verander het. In Zeeuws-Vlaanderen waar ons bly, is dit maar yl bevolk. Geografies is dit geskei van die res van Zeeland en Nederland deur die Westerschelde wat die seekanaal is van die Noordsee na Antwerpen. Zeeuws Vlaanderen is eintlik ‘n landstrook van so 35 kilometer breed en ongeveer 100 kilometer lank tussen die Westerschelde en België. Om in Nederland te kom, moes ons met twee ferries oor die seekanaal vaar na die “overkant”, maar sedert 2003 is daar ‘n tonnel gegrawe wat ons naelstring met Nederland geword het: moet egter tolgeld betaal om die tonnel te gebruik- die enigste tolpad in Nederland.

Op die stukkie aarde is die temperatuur so 2-4 grade hoër as die res van Nederland met die gevolg dat Zeeuws Vlaanderen die ouetehuis van Nederland genoem kan word. Die tipiese gesegte van die ouman gaan dood en hemel toe en die ou vrou kom na Zeeuws Vlaanderen is van toepassing hier. En dis bekend dat ou vroue verslete is, veral daar onder en dinge neig om uit te wil sak- met hoes en so aan. Soos die old bag gesê het: “ I can cough, pie and fart at the same time”.

In 2004 het ek gesien dat meer as 60% van ons pasiënte onder die groep van versakkings val. Dit is ook so dat my opleiding ver terug in Mdantsane hospitaal by iemand was wat ‘n vaardige vaginale chirurg was. En dit is ook so dat 2004 het ‘n rewolusie – of altans toe so gedink om een te wees- in denke rondom die behandeling van versakkings was. Die sintetiese material as hulpmiddel vir vaginale chirurgie het hoogty gevier. Ek het baie vroeg gelukkig gewees om met vaardige vaginale chirurge vanuit Australië en die VSA in kontak te wees. Ons het in 2006, 2007 en 2008 vyf-dag werkswinkels in Vaginale Chirurgie aangebied in die Royal College-geboue in Londen. Vanuit die groepkontak kon ons sekere idees formuleer wat vir ons sinvol was en met veiligheid toegepas kon word. Ek wil nie tegnies raak nie, en sal volstaan met dat ek gelukkig was om met mense saam te kon werk wat ook buite die boks dink en werk en wat “paradigm shifts” in denke kon doen.

Sit hierby die geweldige behoefte in my streek vir die tipe chirurgie en dit is dus logies dat dit ryp was om te pluk, en gepluk het ek!

Vanaf 2008 was ek voldoende selfonderrig om die boodskap te help uitdra na buite en het sedertdien amper 300 ginekoloë van orals in die wêreld oor my vloer gekry vir sogenaamde Master Classes.


Ek gee so ‘n blikkie in een van die:

14 Maart 2016:

Dis met gemengde gevoelens wat ek hierdie week aanpak: Ek het 'n beginsel ontwikkel wat lynreg indring teen die gedagtegang van die "establishment" in my werk wêreld- ek sal julle nou nie verveel met dit nie!- en die ergste is dat ek weet ek is reg en hulle verkeerd.

Hoe kan jy dit verder neem? Die een manier is om stil te bly en net jou gang te gaan -my genetiese samestelling is heeltemal verkeerd agter mekaar gesit om dit te doen! Die tweede manier is om te " Donald Trump" -dit is om orals aan dié wat wil luister, én die wat nie wil luister nie, jou oortuiging met 'n klein handjie en kort vingertjies -blykbaar besit hy ander groter orgaan dele volgens eie zeggen- jou punte uit te basuin: ek is geneties amper so, maar nie heeltemal nie.

Die ander manier is om jou idee uit te werk, wetenskaplik te onderbou en dan oor te dra aan die wat wil luister: Dis hierdie weg wat ek nou al sedert 2008 probeer wandel. Ongelukkig bly die wat doof wil wees, doof en die wat nie wil sien nie, blind.

Hierdie week gaan ek, waarskynlik die laaste van 38 vorige pogings, weer my voordragte doen: 11 in totaal en dit gaan oor 2 dae strek. Toehoorders kom van Rusland, Groot Brittanje en Nederland. Dit sal met 'n stukkie heimwee wees wat die "Master Class" aangebied gaan word. Ons het in 2008 belangstellendes so drup-drup, een-een hier in Terneuzen gehad. Tot dit lastig begin word het om byna weekliks vreemdelinge in die operasiekamer te hê.

Wat begin het as 'n groepie uit Charles Universiteit in Praag, is toe uitgebou na 'n twee daagse vergadering -aanvanklik 6 keer per jaar - aan groepies van tot 10 per keer. Hieruit is daar tweejaarliks 'n multi-chirurgiese, twee daagse vergadering uitgebou waar chirurge met dieselfde benadering, elk sy ding doen. Groepe het toe na 40 per keer gegroei vir die vergadering. Als in Terneuzen, Zeeuws Vlaanderen -letterlik die gatkant van Nederland: dis wat dit so lekker gemaak het, want die vinger in die oog steek vir die blindes was soveel lekkerder vanuit die hoek: ook 'n genetiese defek van my!

My reis wat in die stofstrate van Alexanderbaai begin het, was heerlik tot dusver. Ek kon my spore orals neersit en daarvoor is mens net dankbaar: met alle nederigheid wat jy het as jy uit die gatkant deel van Suid-Afrika kom en die voorreg het om jou voetafdruk neer te kan sit waar jy wil.


Die week sal met heimwee gaan en nog een van die laastes wees wat ek in hierdie jaar van laastes moet doen. 

Dit sal egter ook een van die beginne wees, wat alleen kan wees as daar 'n eindpunt bereik word. Laat ons van nou af vir die dag van vandag leef: dit is tog die eerste dag van die res van jou lewe!


Die vrou en 'n baba besoek aan dokter.

Dokter kyk die baba so en vra:" Mevrou, word die baba gevoed met die bors of met die bottel?"

 Vrou: "Borsvoed dokter." 

Dokter vra:"Mevrou trek vir my die bloes uit asb."

Dokter vryf die nipple, masseer die bors en sê:" Mevrou geen wonder die baba is so klein nie, jy't nie melk nie!"

 Vrou:" Ek weet dokter, ek is die ouma van die kind maar ek's bly ek het gekom!"






Hoofstuk 2

Mediese Kongres reise: die wêreld raak ons woning


Dit is nou eenmaal so dat as man ‘n aantal jare in geneeskunde werk, verloor jy gou jou kontak met ontwikkelinge- aanvanklik woon man die kongres goed by met groot oë en hang maar “onder die radar” rond. Doel is om te gaan loop kyk of jy darem nog “by” is. Later sit raak jy kwaad vir die stront wat sommige kwyt raak, maar bly stil. Dan volg die stadium waar jy durf om vrae te vra, net om op pad huis toe te loop dink dat jy maar seker maar moes stil gebly het, want almal kyk jou snaaks aan, en nie net omdat jy snaakse Engels praat nie, maar soms bietjie met Namakwalandse bravade, nie te veel respek toon net vir die naam van die man wat daar stront praat nie.

En dan bereik man die stadium waar jy self voordragte voorberei en gaan loop vertel hoe jy nou dinge gekry het. Tot jy later agterkom die wat blind is wil blind bly en die wat doof bly doof.

Handdoek se ingooi is nie een van my kenmerke nie en daarom sorg ek maar altyd dat ek ‘n klippie in die skoen bly. Verbasend vir my as klein mannetjie op ‘n klein mishopie daar in Terneuzen, Zeeuws Vlaanderen, was dat jy soms tog sien jou klip in die bos het getref. Ek sal twee voorbeelde noem –moet dit asseblief nie sien as brêk nie!

In 2009 het ek die voorreg gehad om van my resultate voor te dra op die groot Internasionale kongres in Como, Italië. Dit was net voor een van die groot name van daai tyd sy lesing moes gee en die saal was vol met 1500 slim mense. My storie het heeltemal die teendeel gewys as wat op daardie stadium die “trend” was: die gebruik van sintetiese lappe om te help met die lapwerk van die onderdele van die vrou. Na my 10 minute storietjie het een professor van Denemarke opgestaan en my geluk gewens dat ek die enigste is wat kom vertel die goed grens aan sonde en wat openlik sê moet dit nie gebruik nie. Twee dinge van hierdie dag, wat seker maar die hoogtepunt van my “akademiese” loopbaan was, het later teruggekom na my toe. Die lappe se gebruik was veroordeel deur die Amerikaanse FDA in 2011 en later orals ter wêreld toe wat ek voorspel het, waar geword het by ander. Die een dag was hier in 2014, toe ek deel was van ‘n klein besprekingsgroepie in Washington DC waar dieselfde professor van destyds uit Denemarke my so aankyk en sê: “I remember you, you are the man who said that these synthetics are not to be used!” Al wat ek in my beste Namakwalandse Engels kon sê: ”thank you, this mean a lot. Now I can die in peace”. Wat ‘n kak ding om te sê aan so `n belangrike man!

Die tweede uitskietsel van daai dag was toe een ou ook by ‘n latere kongres- hy was maar ook ‘n klein mannetjie soos ek, na my kom en sê dat, as hy so kyk na die verhale van ander en hul gesukkel met die lappe, hy bly is dat hy daai dag na my geluister het en die goed nie gebruik het nie.

Ek het my al hoe meer begin toelê op die redigering van chirurgiese video’s en die maar ingestuur vir beoordeling en vertoning by die kongresse en op hul webtuistes. Het sedert 2007 al my operasies kon vaslê op videos om my in staat te stel om dit terug te kan kyk as daar slegte of goeie uitkomste was. Dit gee natuurlik ‘n geweldige groot “videoteek” waaruit ek ure van plesier nou kry op my oudag met video redigering, en plaas op YouTube vir ander om daarmee te maak wat hulle wil. Ek het my sê gesê.


As mens een mens kan beïnvloed in die regte rigting in jou lewe, het jy al baie bereik.


Met al die kontakte wat ek internasionaal kon maak, het ek orals mense wat ek met deernis kan onthou uit operasie werkswinkels in lande soos Rusland, Indië, Engeland, Skotland, VSA, Ukraine, Turkye, België, Nederland, Duitsland en Frankryk.


Deure wat oopgemaak is net omdat ek die wêreld aangedurf het.





Hoofstuk 3

Lord of the Rings:


Een van die dinge wat ek in my dae van dokter-dokter speel in my later jare, is dat ek met die ringe en hul dinge te maak gekry het.

Dit is nou so dat ek by daai onnerdeel van vroue betrokke geraak het- met so terug dink is dit nie maklik om te kan verduidelik hoe dit nou gekom het dat ek my lewe as arts tussen die bene van vroue- meer spesifiek ouvroue- ge-eindig het nie. Ek het al probeer om die legkaart van my lewe hieroor in te pas, maar van die legkaartstukkies is te groot of te klein, maar die prentjie moet daar wees. Sal later hieroor nog nadink om die beeld in perspektief te kry.

Voorlopig wil ek maar by die ringe en hul dinge bly. Met al my rond-dwalery om 'n plek van stilstand te kry, het dit langs die paaie gelei waar ek in die begin jare te doen gekry het met 'n Engelse Goosen wat my leer opereer het. Toe is ek Tygerberg toe en het rond geloop tot ek in Nederland beland het- ook maar die enigste plek smaak my wat my wou hê as 52 jarige verslete mens. Hoe dit ook al sy: ek beland in Zeeuws-Vlaanderen met 'n redelike belangstelling in die vrou, en meer spesifiek in die verslete dele van die vrou, wat neig in die later jare om weens die versletenheid die dinge wat bo sit nie meer bo kan hou nie en dus versak die spulletjie- soms so erg dat dit uithang en terug moet gedruk/trek word. Anders kan die antie nie lekker op die fiets-saal sit nie- en dit moet jy nie aan 'n Hollandse anti doen nie!

Dit is toe asof twee pole by mekaar kom- ek en die antie met haar uitsakkery: ek het goeie opleiding by die Engelse Goosen gekry en die antie het gesorg dat haar plekke verslete raak deur kindergeboorte veral.

Die man voor my wie se werk ek gekry het in Zeeuws Vlaanderen het net een manier geken van die besigheid na bo te druk: sit 'n ring in. Die ringe is in verskillende groottes en is eg 'n ring. Dit word ingesit, druk als na bo en word so elke drie maande uitgehaal, gewas en teruggedruk: tydelike oplossing vir een wat eintlik beter behandeling moet kry, maar die anties was met my koms nou al so gewoond aan die tipe mishandeling, dat hulle nie omgepraat kon word aan beter dinge nie.

Altans nie deur die mannetjie uit Afrika wat rare Nederlands spreek!

Ek wil bly by twee van die anties wat ek so oor jare by my gehad het: hulle kom elke drie maande langs en mens raak later soos familie. Die een antietjie is van die dorpie met die wonderlike naam van Nummer Een, net so suid van Breskens: as julle my wil glo nie, sal julle dit op die kaart kry. Sy is vergelykbaar met 'n rosyntjie- net die ene plooie en so taai soos 'n ratel. Sy vertel elke keer met haar ringomruilery- een ding van my werk is dat as vroue so met die bene in die lug lê, hulle neig om of baie stil te wees of om baie te praat: sy was die praterige soort- is dat sy 'n baie afhanklike man het. Sy moet als doen vir hom- en toe gaan hy eendag dood. Sy het hom toe laat veras en is so gewoond gewees van om hom by haar te hê, dat sy sy as in 'n kruik in die boom waar hy altyd gesit het as hy haar nie rondgejaag het nie, te hang. Later jare het ek haar oortuig om met die mes meer permanent te repareer en het sy ook daarna nie weer gekom nie.

Die ander antie is die ou vroutjie van Vlissingen wat eers met fiets tot by die ferry moes ry, daarna met die ferry oorkom na Breskens en vandaar die bus moes kry Oostburg na ons toe. Elke keer het sy 'n bottel Port gebring vir my en 'n boks sjokolade vir die nurse. Sy het weer 'n Anton gehad wat sy moes versorg. Die antie is so 80 plus en as jy haar teen die lug kyk moes sy 'n baie mooi vrou in haar jong dae gewees het. Ook aan die praat as die bene so in die lug gaan. Alles van haar lewe met Anton was vertel en van haar dogter. Later het Anton seniel geword en tehuis toe gegaan en het sy maar net so nou en dan vir hom ietsie gevat.

Ek is uit die praktyk uit en moes haar oortuig dat die jong mannetjie wat my werk oorgeneem het, die ring verder moet omruil- later gehoor sy het nie meer gekom nie, en Danette se voorraad Port moes ons maar self koop.

Die regmaak van die versletenheid van manne se speelplek, my werkplek en die vrou se skaamplek, het baie draaie met my gemaak en gehelp dat ek ook baie draaie in die wêreld kon gooi sal as 'n later verhaal gebêre word.



Hoofstuk 4

‘n Mediese kongres iewers in Torino Mei 2016:


Ek kan onthou hoe ons op skool moes leer -hier in standerd vyf rond en daarna- met aardrykskunde, van die Po vallei: oor wat daar geboer word mee en hoe die industrie daar rond lyk, en nog baie wat ek vergeet het. Ook is ons later geleer oor die unifikasie van Italië en 'n man met die moeilike naam van Garibaldi wat die hel uit anner toekomstige Italjaners gejaag het met sy bakleierigheid.

Gister en vandag het ek rond geloop in Turyn, of Turino, of Turin en langs die Po rivier gestaan. Rond geloop is geloop, gekyk is gekyk -later is kortbroek gekoop omdat dit koud was in die Holland en warm is hier.

Gisteraand sien Danette 'n lamp in 'n oudhedewinkel se venster en moes ons vandag die plek soek want, volgens haar, wil ek so een hê vir die roltop-lessenaar wat sy uit haar pa se boedel aangery het -want weer volgens haar- wil ek so een hê: nou manne wat soos ek al 43 jaar by een van daai anner geslag woon sal weet: jy stry nie as jou vrou sê jy wil 'n ding hê nie.

Ek gaan nou bietjie afdwaal en kom nou nou weer by die lamp in Turino se storie.

Die vat wat aangebied word deur 'n vrou aan 'n man laat my aan die storie dink van Bill Cosby oor Adam en Eva. Volgens hom het die ding so gewerk- Eva het aangeja met die gedoente van verlei word deur die slang- toe kom sy by die onskuldige Adam en bied vir hom ook 'n happie van die appel aan- en ons ken manne: as 'n vrou gee, vat 'n man en eet! Ook maar in dié kategorie waar Adam eerste gekies het om te kan staan en piepie en terwyl hy rondhol en alle bome bepiepie, gee God aan die vrou die tweede prys: verstand.


Die lampie is toe in 'n winkel venster gesien gister en ons raak toe aan soek vir die lampie- die gesegde van ons twee hier in vreemde stede, is dat ek alle Europese stede so deurmekaar krap dat as ek vertel wat waar is, neem Danette oor want die plein wat ek in Leuven by was en daar 'n lekker plekkie gekry het, sit in my kop in Brugge, of Parys ens: as ons by 'n bus uitklim en links moet draai, draai Poelpol en sy pel regs. Later agtergekom dis omdat die son aan die verkeerde kant hier in die Noordelike halfronde sit en opkom.

So ook vandag: ons loop skoon die verkeerde kant toe en beland al hoe verder weg van die straat wat ons soek, en stry-stry met mekaar en die Tom Tom in die hand, kry ons die winkel- gelukkig was Siesta verby weens ons soektog en kan ons die plek oop kry. Jy moet 'n klokkie lui en dan kan jy in- byna soos in SA. Dis hier waar die sports begin het: so 'n kort kaalkop omie. Weer gaan ek bietjie afdwaal: in Italië is daar twee soort mense: kort vettietjies en lang maergatte. Die Omie was van die kort vettietjie genetiese groepering.

Ek stap met rugsak op rug in en dis net lampe van alle ouderdom en soorte orals. Blykbaar was daar al moeilikheid in die omie se plek, want hy begin in Italjaans vir my vertel en beduie- Danette vertaal: “haal daai ding af jy gaan hier lampe stukkend stamp en dan spat die dinges!” Ek kon teen die tyd ook die Italjaans se strekking volg, want die omie beduie.

Met rugsak veilig af, beduie ek na die lamp in die venster- eers vat omie die verkeerde en stry met my dis wat ek gesê het- blykbaar is sy Afrikaanse en Engelse kennis slegter as my Italjaans.

Hy skryf prys neer op papier, en die regte lampie kom uit: dit het egter 'n driepunt plug op sy Italiaanse manier: drie punte in 'n ry: weer Italiaans se beduie deur ons, sy begrip en hy gaan haal “Hollandia” plug en sit met groot moeite dit op die lampie- ek en Danette is intussen aan die stry oor die duur ding wat ek nou al weer wil hê -heeltemal vergeet dat my hê deur haar besluit was om my hê te wees en my aanvaar van wat my hê nou is, is deur lewens- en huwelikservaring deur my aangeleer.

Ek word aangesê om die omie se prys af te stry, want dis volgens haar hoe Italianers besigheid doen: ek nie- ek hoor 'n prys, beoordeel dit en as dit my pas, aanvaar ek dit, as dit te duur is, loop ek weg -terloops ook maar soos D dinge sien. Vandag dus nie: gelukkig sukkel die omie om die plug om geruil kry- Danette mompel, as hy so afsny aan daai draad gaan ons die ding glad nie met die kort draad kan sit op die plek waar "ek dit wil sit"- ek hoef nie weer vir die leser te herhaal van my wil hê en hoe dit tot stand kom nie.

Met die gesukkel kry ons maar Omie jammer want sy plek is vol stof, en ek is seker hy sit maar bedags daar om van die kwaai antie by die huis af weg te kom en verkoop seker niks. Foeitog, betaal hom maar.

My rugsak het ek weer in die straat opgesit.

Turino: baie mooi stad- geen tekens van tweede wêreld oorlog, plat geskiete geboue nie, Po rivier mooi en vol water wat enige Namakwalander se hart week sal maak, strate netjies en skoon, Pizzas baie en goedkoop- so ook bier (twee variasies: Witbier en Rooibier) en voel mens rêrig nie jy word gedurig verneuk nie.

Meisies mooi, mannetjies rammerig- waarskynlik die mooi meisie se skuld, want hulle bied aan en manne vat (onthou van Adam en Eva en die appel)- en mens kan die stad maklik platloop sonder verdwaal- strate is mooi geblok en kan jy net links en regs draai sonder dat daar strate is wat in kringe loop (as jy ooit in België se stede moes rigting hou, sal jy weet wat krom strate aan mens se rigtings vermoë doen met die dat die son verkeerd-om opkom.). 

Met seer voete en 'n lampie in die tas, gaan ek nou rus vir môre se rondloop.

En toe het ons geloop- daar was drie dae van kongres oor alles wat 'n vrou aan kan bied en deur baie belangrike manne- ek kon so 'n kort rukkie uithou en het toe maar geloop en rondloop kyk hier in die dorp in.

Op mediese kongresse is daar gewoonlik 'n paar lae van mense- die onderste laag is gewoonlik die wat wil word, die lagie bo hulle is die wat geword het en met die lagie bo hulle kontak wil maak, maar geïntimideer word, dan is daar die laag wat dink hulle weet en met mekaar meng, mekaar prys en mekaar vertel hoe belangrik hulle nou eintlik is, dan is daar groepe wat in geen laag pas nie: hulle is gevul met ervaring, het hul dae van onderlaag, middellaag en ook pogings tot bolaag -gewoonlik nie geslaag nie- gehad en nou maar kom luister, probeer raad gee en ervaring deel, maar niemand luister meer nie, want hulle is eintlik al afgeskryf (dis in die laag waar ek in pas), en dan is daar die lagie van oumanne. Hul antie bring hulle maar, want hulle was in die lagie van belangrikes op hul dae maar pie nou hul skoene nat, is tuis in die pad en is eintlik maar poepolverdrieterig.

Wat my op die kongresse erg moeg maak, is dat jy weet jy kan die bolaag man reghelp, maar as jy met hom praat is hy gedurig besig om oor jou skouer te kyk of daar nie 'n meer belangrike man as jy in die rondte is nie, en dan verdwyn hy in die middel van jou storie.

Dus: ek is klaar met die spul. Hoe sê ons Namakwalanders? “fok maar aan”.

Tog is daar ligpuntjies: ek sit en luister na 'n Belg wat vertel van hoe hulle sukkel om met die groot geld in infertiliteits-behandelings in die Pro-fit deel uitgeroei te kry, en net voor ek aan die slaap raak, kyk ek om my: dis byna of daar 'n mode parade is: waar kom al die mooi jong vroue wat deesdae ginekoloog is, vandaan? In my dae was die mediese meisie die vettes. In die ry voor my is een besig om haar eye shadow en lippe te verf in 'n hand spieëltjie, die ander een sit en selfies neem en die een langs haar is meer geïnteresseerd in hoe haar naellak aangesit moet word.

Ek wonder of die toekoms so goed gaan wees as die klompie hulle se hande vol bloed moet laat word met opgerolde moue. Ons werkplek is naby die speelplek en ook naby die “soeriesplaas.”
In my dae....

Hoofstuk 5

Aksie in Zorgsaam


Dis nou al byna 40 jaar wat ek soggens om 07:00 instap in die warm omhelsende greep van vroue, en om 18:00 uitstap. Een van die grootste pitswere in my beroep, is manne wat ook verpleegkundiges is, of soos hulle in Nederland genoem word, "broeders" -waarskynlik afgelei van "susters" 'n benaming vir verpleegsters wat in SA gebruik word maar hier egter om een of ander rede nie meer geld nie: hier word hulle assistente genoem, alhoewel jy soms moet gatlek om assistensie sonder opinie uit hulle te kry!


Uiteraard is die spul rondom my Hollanders. Die groep vroue is orals van dieselfde stoffasie- of dit nou in die Ciskei, of Australië of Engeland of Nederland is: hulle neig om deur hul beroep later gedragspatrone te volg wat hul orals herkenbaar maak. Die gedrag wat die meeste uitstaan, noem ek gewoonlik die "Florence Nightingale" eienskap: hulle beskerm die pasiënt teen die dokter- soms oorgevoelig so. Hulle is egter altyd behulpsaam en altyd ingerig om te ondersteun en in orde te bring.

‘n Voorbeeld is die volgende: as jy in groot winkels na die klererakke kyk, is die klere gewoonlik deurmekaar geruk deur diegene wat afhaal, bekyk en weer terugsit: een van my verpleegsusters vertel dat sy altyd die klere regsit in die winkelrakke wat ander deurmekaar maak -tot ewige verdriet van haar tienerdogter. As jy dus op ‘n vrou afkom wat klere in die rak reg pak en nie daar werk nie, kan jy aanvaar dis ‘n nurse.

Die rede waarom my kop op die nurse beland het, is Fleur se skuld: met my inkomslag in die "afdeling" -hier so genoem en nie saal soos in SA nie- val die verskil in kleredrag op: 40 jaar gelede was daar 'n matrone wat die gange patrolleer het en gesorg het dat alle knope van die uniform vasgemaak is, veral die bo-knoop. Die uniform van 40 jaar gelede was strykplank voor en strykplank agter. Die matrone was gewoonlik oorgewig -en ongetroud- met sykouse aan: die fiets-fiets van boude wat teenmekaar skuur het gelukkig almal gewaarsku die tante is op pad. Op die kop van ons nurse uit die sestigerjare, was daar 'n wit keppie, wat netjies net op een manier vasgesit moes word- die arme swart suster in Cecilia Makiwani (so genoem na die eerste swart verpleegsuster in SA) Hospitaal in die Ciskei, het nie genoeg hare vir die vas sit nie en het gedurig in stryd met die natuur gewees om op te bly- matrone sorg daarvoor.

Met my instap verlede week en aansien van Fleur - ons noem hulle nou op die voornaam en nie soos jare terug "suster” so en so nie- het my mankliere warm geword: die uniform kan op sy beste nie as strykplankerig geklassifiseer word nie, veral nie op Fleur se lyfie nie. Dis 'n langbroek- darem nog wit- wat met seksie opgerolde pype gedra word om enkels te wys, 'n oorhang jurkie wat netjies op die boudjies hang met die bo-knoop oop, net om man se oë daarnatoe te trek en besig te hou. Die wit keppie van toe is vervang deur 'n bril in die hare.

Die groet is ook: "Waarom ben u laat voor visite" met darem nog 'n huiwerige "dokter" agteraan.

Dis toe dat ek besef ek stap soggens in die hemel in, dis toe wat ek besef ek is 40 jaar in die job met baie veranderinge- almal goeies- en dis toe wat ek besef ek sal moeilik nié meer soggens in kan stap by die paradys met sy pragtige mense nie: as ek op pensioen moet gaan, sal dit gedwonge wees, want dan het ek net een vrou -en die het intussen 60 en parmantig geword.


I love my job!





Hoofstuk 6

Vakansiediens 2014:


Dit is al soveel jare dat ek oor die vakansie seisoen werk- eers was dit in die somertyd en die afgelope 12 jaar in die wintertyd. Vanjaar het ek die vroeë skof gekies en sal vry wees vanaf die 24ste.

Daar was egter jare wat mens oor die Kerstyd en oor die Nuwejaar heen moes in- en uitstap uit die hospitaal. Dit volg ook gewoonlik 'n patroon: die vakansiegangers- hier waar ek nou woon is dit naby heelwat vakansieoorde- gelukkig meer somer kampeerterreine en rustig oor die winter- en in Somerset -Wes was dit natuurlik Transvalers wat Kaap toe gekom het- ons het hulle "soppiekoppies" genoem. Die bynaam kom omdat die pappie gewoonlik net voor die vakansie 'n nuwe kombi, en karavaan, en al wat kan oop en toemaak, gekoop het en met die rytjie kinnertjies agter en die mammie voorin Kaap toe ry. Dis dan wat die kinnertjies grootoog al die berge en see en snaakse mense, wat Stormers en WP hempies dra, oopmond aanstaar penregop op die agterbank sit. As pappie agteruit ry moet hy altyd vermaan: " Soppie Koppies" om te kan sien. Ek dwaal af.

Die seisoen werk in my lewe het bestaan uit vakansiegangers wat grootoog instorm met ellendes klein en groot wat hulle aanvang weg van die huis met klere aan in die somer wat hulle nie by die huis sou dra nie, met dinge wat hulle aanvang wat hulle nie by die huis sou doen nie, met verwagtinge van ons wat hulle nie tuis van hul dokter sou wou waag nie, met -en dis wat my gewoonlik rou om die nek maak- houdings van meerderwaardigheid, want hulle kom mos van ver en wat weet ons locals hier in die gatkant van die land.

Dis egter hier waar ek nou is dat mens oor die seisoentyd dinge sien en soms perspektiewe van die lewe kry wat ander tye van die jaar nie daar sou wees nie. Kom ek noem maar net wat ek tot dusver ervaar het hier oor die naweek se diens.

Dit het Vrydag begin met die meisie wat inkom met die "baba wat nie beweeg nie"- oproep van die verloskundige, terwyl ek besig is om alle laat minuut klein strontjies van pasiënte uit moet sorteer omdat ek tyd vrygemaak het vooraf. Ek weet uit ondervinding die Vrydag voor Kersfees is daar altyd pasiënte met klein strontjies wat uitsorteer moet word, omdat hulle los wil wees om "de feestdagen te genieten".

Gewoonlik kom daar weekliks een in wat minder lewe voel en dan is daar niks verkeerd nie- die slag is dit egter anders: daar is geen hartslag by die fetus sigbaar op die sonar- en dit op 'n swangerskap van 37 weke. En die mens is ver weg van haar tuis gemaksone. Uiteraard krisis orals en alarmligte wat brand en trane wat vloei- terwyl mens hiermee nog sit en probeer kalm oordra aan die mense, kom die oproep vanuit die kraamsuite oorkant die gang- “de mevrouw perse nu al 60 minuten en de baby se hartje deselereert". (In Afrikaans: die vrou druk nou al 60 minute en die baba se hartjie raak stadiger). Dus: los als so en stap oor die gang en sit 'n suier aan en help die baba uit met nog al die negatiewe gevoelens in jou kop oor dit wat oorkant die gang afspeel. Baba goed, ma goed, geen skade onder ook nie.

Een kant van die gang was daar Vrydag 'n goeie uitkoms, ander kant van die gang wag ellende.

Wat die gevolge vir die mense is wat so pas 'n baba verloor het en wat die gevolge is vir die wat 'n goeie uitkoms gehad het, is wêrelde verwyderd van mekaar, maar is ons wêreld waarin ons wisselende emosies ervaar en beleef. Dan lê die Saterdag waarin die dooie baba uitgehelp, of soos hulle dit hier so mooi sê "begelei" moet word, nog voor.

Dis egter waar geneeskunde sy toppunt van bevrediging het: die begeleiding van mense waar daar werklik groot krisisse is en die help deur dit, eerder as die begeleiding van mense waarin als goed uitkom.

Met die gaan sit Saterdagaand na als weer tot ruste is, kom die verpleegkundige en vertel dat die "stiefvader van de mevrouw waarin u de vacuum had gedaan erg ongelukkig zijn omdat u zo nors was" (die stiefpa van die vrou waarin ek die suier gedoen het is erg ongelukkig omdat ek by die bevalling so nors was)- dis nou in die mense waar die baba se lewe gered was! Mag ek dit sê? Fokkit!

Die naweek is halfpad en die helfte van die diensbeurt is nog voor. Kersfees ook, en dan Nuwejaar- of soos dit hier genoem word "OUD-NIEUW".

Dr Nieuwoudt werk nie vanjaar op oud-nieuw nie en sal in Engeland by die kleinkinners sit en dink aan die naweek wat verby is, en dan aan die jaar wat verby is en dan aan die jare wat verby is en wonder oor die jaar wat kom en die patroon wat dit moontlik sal volg.

Waarskynlik soos al die ander -met die verskil dat die kliniese loopbaan snel sy einde nader.

En dankbaar wees oor sy lewe en die rol wat dit kan speel in die lewe van ander.

Dis nie opoffering nie, dis geneeskunde.

Kyk nou wat gebeur as ek weer slaaploosheid het: wonner waarom ek so sleg slaap.





Hoofstuk 7

Van Stofstraat tot Die Rooiplein


Hierdie storie is nie vir diegene wat swak van hart, swak van humor is nie, maar wel vir die wat waarskynlik so 'n klein bietjie swak van morele of ander standaarde is: die wat "sensitief" is moet liewers nie verder lees nie.

Dit gaan nie oor Namakwaland nie, dit gaan egter oor 'n Namakwalander wat hom "buite" bevind, al jare, maar nog "binne" Namakwaland behou het. Dit gaan oor die derde gaatjie van 'n vrou, Moskou en die Kremlin en Russe, en Nederlanders en 'n Namakwalander wat midde in die mense en plek beland het: weens sy kennis en ervaring van die derde gaatjie. Min het ek geweet van die sestiger jare toe die hormonale woede deur my are gevloei het en Adri Blackie van Niekerk my vertel van die derde gaatjie wat manne nié daar onner het nie- dat die derde gaatjie, wat manne se plesier is, en vrou se geheim is, my werkplek sou word vyftig jaar later: ek is tans bekend met die tegnieke van hoe om die versletenheid van kinnergeboorte te herstel en weer die plesieroord van oumanne te maak: dis die kennis en vaardigheid wat veroorsaak dat daar nie in openbare ordentlike plekke oor my gepraat mag word nie, maar dat ander vakkundiges oor die wêreld moeite sal doen om my te verdra en te kom leer hoe doen man dit nou om weer die trots in daai gaatjie vir die vrou te laat herleef.

Die sitplek van een, word weer die trots van ander: die vroue weet al dat ons terug wil sit en kan sê: "mevrou, ek is trots op jou vagina". Dis die vakkennis wat veroorsaak het dat ek, my vrou en Hollandse teater suster in 'n vliegtuig beland -een van daai Popolov dinge van die Russe.

Danette het met die inklim in die ding, waarvan veel maklik uit die lug val, weer gevra: “Andri waar het jy ons nou weer in laat beland”- ons was op pad Moskou toe.

Moskou, hier waar sommer met die afklim my tas weggeraak het, die Russe my variasie op die Engelse taal nie verstaan het nie en die Prof van die twyfelagtige Universiteit met die naam van Friendship University of Moskou, my moes kom uithelp.

Lang storie kort: daar is lesings gegee met in 'n geradbrakte Engels wat net 'n Namakwalander kan praat, met 'n Russiese tolk wat dieselfde gebroke Engels praat -die Friendship University se geld kon nie beter bekostig, en seker ook beter uitnooi nie- en sin vir stotterende sin vertaal in Russies. Operasies wat uitgevoer word in 'n privaat kliniek- die Friendship University se hospitaal, doen nie sulke ingewikkelde operasies nie en vertrou nie Namakwalanders nie- met teaters waar die stof van die bouwerk nog nie afgewas was nie.

Die Hollandse teater suster wat wil-wil terug vlug Nederland toe, want die Russiese helpers verstaan nie haar variasie van die Engelse taal nie, nog minder haar streng regeltjes oor higiëne en gee die verkeerde goed aan op onhigiëniese wyses. Ek moet sny, toewerk en beduie in my Engels, die tolk moet luister, ontsyfer en praat in sy Engels- hy was ook nou nie gewoond aan in die gaatjie opkyk op die manier wat ons opkyk nie en het so nou en dan geluide gemaak wat nie Engels of Russies was nie en eerder na braakgeluide klink, en ek's seker hy het permanent afgesien het van die gebruik van die gaatjie- en dan 'n rits Russies aframmel wat langer sinne bevat het as wat ek gesê het.

Waarskynlik meer beskryf as wat ek bedoel het hy moes beskryf. Die hele gedoe het egter die operasietyd verleng en verleng en verleng.

My storie gaan egter nie hieroor nie: dit gaan oor die tussen operasietyd- die omruiltyd van pasiënt aflaai en weer opsit. Ons word deur gangetjies gelei tot in 'n vertrek waar die toehoorders sit en moet dan vrae beantwoord oor kennis en dinge wat die tolk met my hulp nie kon invul nie. Dis hier waar ek met my diklyf op 'n kroegstoeltjie voor die gehoor moet sit met so 'n mooi Russies joernalissie wat vrae vra, sonder tolk -diė drink water, was gesig en berei hom voor vir die volgende operasiesessie van kyk, luister, vertaal en weer kyk, want manne kan nie hul oë afhou van my werkplek nie -om een of ander rede.

Die joernalissie was netjies gedrapeer ook op 'n kroegstoeltjie en iets vir die oë. My drag is egter nog die "scrubs" van die teater en die is 'n papieragtige hempie wat te kort is en as ek beweeg steek die witbuikvet uit, met 'n broek wat te groot is en dreig om af te wil val. Die toehoorders kyk stip na my, sonder dat ek weet waarom en nie bewus is van die streep witvet wat met elke beweging uitsteek met die optrek van die hempie elke keer as ek beweeg en beduie- 'n ding wat ek graag doen soos dit Namakwalander betaam wat dink hy weet.

Een van die Russies meisies (Faida) in die gehoor neem foto's vir 'n vale: ek dag dis omdat ek so belangrik is, net om later te sien en hoor dis my lyf wat half bedek, half nie bedek is wat haar so laat glimlag en laat afneem! Sy het darem later volgens haar die foto’s afgevee, anders was ons vriendskap daarmee heen.

Die Hollandse suster sit daar en elke nou en dan wil sy iets vir my, die belangrike man op die kroegstoeltjie in Moskou voor klomp Russe, beduie en dan laat sak sy haar hand nes ek stil sit en vir haar kyk.

Na my oomblikke in die son, is ons daar weg, terug in die gewone klere wat pas en word rondgery om orals te in en te loop- Rooiplein, Kremlin en so- en op pad huis toe in die Poplov vliegding word die foto's van my op die kroegstoeltjie gewys aan almal wat wil kyk: dis toe ek eers agterkom hoe pateties lyk 'n vet ou met 'n te kort hempie van papier met 'n te groot, dreig om af te val broek, op 'n kroegstoeltjie. Veral as hy probeer belangrik wees in gebroke Engels.

Die Hollandse suster pers my vandag nog, 8 jaar later, af om die foto's rond te wys, sodra ek wil-wil belangrik raak.

Die storie het darem ‘n nadraaitjie. My gasvrou van toe, het my in 2017 weer uitgenooi om haar te kom bystaan met haar eerste groot Kongres/Live chirurgie byeenkoms: en sy was nog steeds by die Friendship University Hospitaal- een of ander nommer, want hospitale in Moskou word nog steeds net genommer.

Die slag was daar meer toehoorders en was die “faculty” ‘n gemengde Russies-Turkse (en een Namakwalander/Oud Saffa/Hollanderige: die uwe).

Dié slag was ek met meer ondervinding gelaai oor die versletenheids-herstel dinge, opereer voor gehore en met tolke wat minder die gaatjie bekyk het en meer professioneel was, en sonder die Hollandse suster wat as straf tuis gebly het- sy en Danette.


Miskien meer hieroor later.









Hoofstuk 8

Oor die KGB, die Nigeriër wat Russies praat, Mexikaanse griep en Ukraine:


Die storie is waar en is nie 'n storie oor die Baai nie, maar is oor 'n Baaienaar wat opgegroei het in die dae toe die ystergordyn daar was, kommunisme baas was agter dit, en ons voor gepreek is van die Antichris en die Rus wat een is. Met dié vorm van breinspoeling is ek uit die Baai uit in die groot buitewêreld in: eers Springbok, toe Stellenbosch daarna Parow en Tygerberg hospitaal, kort draai in Suidwes (voor dit deur Namibiërs oorgeneem is) via die Oos Kaap en weer terug Tygerberg Hospitaal en Stellenbosch Universiteit, 'n draai in Somerset-Wes om te probeer geld maak -wat nie gebeur het nie- en toe uiteindelik na Holland waar ek nou sit.

Vanhier het ek die voorreg om met die wye wêreld kennis te maak en dis hier waar die storie uiteindelik begin.

Om een of ander rede is daar mense wat belangstel in dit wat ek doen en so beland ek en my vrou- “Andri, waarin het jy ons nou weer laat beland”- op die vliegtuig (geen Soekoelof of wat daai Russies goed ook al genoem word wat so val, maar op KLM) op pad Kiev toe: vooraf het die Professor beloof ons sal daar opgetel word en versorg word- ek wou self trein kaartjies na Odessa bespreek (Professor, nou Alex:" not to worry, I'll arrange everything"), en het dus nie.

Toe ons afklim in Kiev, staan daar die swartste Nigeriër wat ek nog gesien het, - oor die 6 voet lank, " Hi I am Sam- Professor send me to take you to go and eat and then I shall put you on the train". My vrou: “Andri waar het jy ons nou weer in laat beland”.

Met kyste in die hand- Sam met die grootste, soos dit 'n swart gasheer betaam - is ons daar uit in die land van die Antichris met net Russies op alles geskryf. By 'n BMW met sulke donker getinte ruite word ons aan 'n man met 'n kepsie voorgestel- dis sy kar, sy vrou was 'n pasiënt van Professor en hy skuld blykbaar vir die professor en hy sal ons rond neem: kan net Russies praat.

Prof. bel op Sam se selfoon- ons het gou agtergekom hier praat almal gedurig op selfone- "we have a problem: the Mexican flu had an outbreak in the Ukraine and our congress, as all gatherings, are cancelled, but do not worry: we will look after you".

Die look after sal 'n week moet duur, want ons kaartjie terug is eers oor 7 dae. "Andri waarin het jy ons nou weer laat beland"- ek hoef nie te sê uit watter oord die Afrikaans in die land van die Antichris kom nie.

Sam en Kepsie laai ons in die BMW met donker ruite- daar het toe 'n pel van Sam, ook swart en Nigeriër, by ons aangesluit. Stel jou dus voor: Kepsie agter die stuur, ek voorin- is mos die eregas-, Danette agterin met twee swart Nigeriërs weerskante van haar: die oë praat, ek kyk orals om die pratende oë mis te kyk en sien net raak wat dit sê.

In die donkerte in ry ons, elke nou en dan is Sam op die selfoon- die ander twee is gedurig besig om in Russies met ander oor die selfone (miskien met mekaar) te praat- met die Prof aan die gesels. Die trein ry eers oor 4 uur en ons gaan nou eers uiteet soos deur die prof belowe. Stadsligte word gesien en gaan verby en na 'n uur se ry beland ons voor 'n restaurant tussen niks en nêrens: buite staan net sulke swart bakkie/busse wat in Bones en ander TV stories deur die FBI gery word- en ook deur die Russiese mafia.

Ek en kwaai oë is by die restaurant in, Sam by, maar Kepsie en die ander een wag buite. Hongerte is weg van banggeit, maar ons wurre een of ander gereg in en terug in die BMW en met Kepsie agter die wiel, is ons stasie toe. Daar staan jy tussen duisende en tuur na 'n bord waarop net Russies geskryf is, blykbaar om te sien op watter perron jy die trein moet kry.

Sam het geen kaartjies by hom- ek vra onder aanporring van twee benoude oë langs my, en hy bel die Prof op sy selfoon, die sê net: "do not worry". Oë sê –die stilstuipe het oorgeneem-“ Andri, waarin het jy ons nou weer laat beland”, en andri, (nou nederig en met klein letters) raak ook benoud.


Skielik sien Sam iets belangriks en jaag ons aan na 'n perron waar die helfte van Ukraine staan en wag op 'n trein. Ek vra weer: het ons tickets, Sam bel die Prof, die sê "do not worry" -asof dit vir oë rustig sal maak!

Die trein kom (lyk soos een van die uit die boeke van Konsalik), die helfte van Kiev klim af, die ander helfte storm en drang op, en Sam praat met die Prof wat ons beveel om nie te worry nie. Sam kry so enetjie met 'n klipbord in die hand, met sulke hakskoentjies aan met 'n kort rokkie wat miskien uniform genoem kan word (het my aan Koekiehol van die Baai laat dink) en die sê ons moet net opklim: Prof het met haar gepraat- was ook 'n pasiënt van Prof en sy skuld hom. Sommer enige wa. Ons is toe daar in, staan in die gangetjie met die kyste en die trein begin ry, Sam darem by. Kepsie en pel is weg.

Oë kyk en praat net. Daar kom toe een met dieselfde outfit as die een op die perron wat die Prof skuld en ons sukkel met kyste- Sam dra nou alles- wa na wa af tot ons 'n leë kompartement kry. Danette gaan ongenooid sit met “'n hier kry niemand my nou uit nie”.

Sam staan in die gang en koekiehol uniformpie verdwyn.

Ons is op pad Odessa toe in 'n trein wat Heinz Konsalik oor skryf waarin die goeie mens óf by die vensters uitgegooi was óf in 'n Siberiese strafkamp afgelaai was.

As man al 40 jaar huweliksopleiding agter die rug het, weet jy wanneer om te sit, te staan, terug te praat en wanneer om stil te bly: laasgenoemde was volgens, my die beste en veiligste uitweg.

  • Na ek ons dilemma bekyk en in stilte bedink het - sonder kaartjies op 'n Konsalik trein, hopelik op pad na Odessa, kwaai vrou, Nigeriër in die gang as enigste anker tussen my en die beskawing en oorlewing- gaan ek eers in die trein se gangetjie af om orals te ondersoek- waar is die toilet, waar is die ontsnappings roetes- en kry toe 'n ander vroutjie in 'n koekiehol uniformpie wat in so 'n klein kamertjie/ kompartementjie sit op dieselfde wa as ons: sy is die wa se treinwaardin of oppasser of kontroleur. Versigtig eers in Afrikaans, toe Hollikaans en toe Engels probeer kommunikeer sonder sukses.

Sam kom soos 'n Nigeriër en mede-Afrikaan betaam tot my hulp en dit is dus legaal: ons kan maar in die kompartement bly en sy sal ons met komberse en koffie bedien. Eet het ons mos al.

Met 'n koffie in die hand is oë gelukkiger maar nog nie heeltemal tevrede nie, veral toe die Prof vir Sam bel om te check of ons nog worry en ook om te sê dat hy my graag 'n drukkie/of knuffel of wat Ukrainiërs ook al doen, vir oud Baaiers wat onwettig op 'n trein op pad is na Odessa, en worry, gee.

Odessa is 500 km van Kiev en die kongres sou in Vinnitsa se Universiteit wees so halfpad tussen die twee. Hy sal daar wag: ons is 10 uur die aand uit Kiev, sal 1 uur die oggend op Vinnitsa wees waar ek my knuffel/drukkie ens sal kry en so teen 06:00 die oggend in Odessa.

Oë is onmiddellik kwaad: ek sal nie wakker word nie, sy ken my mos- nie op Vinnitsa en nog minder op Odessa-, en sy sal wakker moet sit om my wakker te maak vir die dinge. Sam beloof hy sal my wakker maak op Vinnitsa- hy klim daar af- maar Danette vertrou nou niks: “Andri, dis die laaste keer wat ek saamkom!” Het later saamgegaan na Moskou, St Pietersburg, maar nie na Ankara – “ek slaap g'n op 'n moslembed”- en Indië.)

Als het goed en veilig afgeloop: ek het my knuffel en 'n masker vir die Mexikaanse griep beskerming so slaap-slaap by die Prof gekry, Sam is weg en ons is in Odessa deur so 'n maer kliniese assistentjie opgetel, by die hotel afgelaai en Dennis (wat net Russies en Ukrainies praat) en Zola sy meisie, wat op kollege besig is met 'n vertalers kursus, het ons vir drie dae alles in Odessa gewys wat toeristies is.

Later is ons terug na Kiev met 'n heerlike rondneem in kloosters onder- en bo gronds (die priester het die prof geskuld) met 'n verblyf in die VIP blyplek van die kommunistiese era (die prof se pa was 'n generaal in die KGB!)- dis die basis vir 'n ander dag se storie.


Net dit ten laaste: die oë het ophou praat en als geniet, dink ek.


Die ou moes ook Rusland toe, en soos dit maar met ons mense gaan, doen man maar navraag vooraf, veral oor tale en kommunikasie daar in die vreemde. Hy word gerusgestel: as jy stadig Afrikaans praat klink dit nes Russies en verstaan die mense jou. Opal van die lughawe Moskou toe op die trein, sit een voor hom met lang sokkies en safaripak en die lyk soos een waarmee hy praatjies kan maak en sy Russies toets.

dis…..darem….warm….hier”

Dié antwoord” ja….fokkin….warm…”

Smaak my die mense was reg- jy word verstaan as jy stadig Afrikaans praat hier!

vanwaar….kom…u…?” Die antwoord:” Kuruman”


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-27 show above.)