include_once("common_lab_header.php");
Excerpt for Ek Onthou: Boek 2 - Ervarings herinnerings by , available in its entirety at Smashwords

This page may contain adult content. If you are under age 18, or you arrived by accident, please do not read further.




Boek 2


Ek Onthou:


Ervarings herinnerings













Andri Nieuwoudt





Outeur: Andri Nieuwoudt


Omslagontwerp: Andri Nieuwoudt


Geset in Times New Roman 12 pt


Alle regte voorbehou

Kopiereg ©Andri Niewoudt


ISBN 978-1-928413-92-9


Eerste Uitgawe 2018


Hierdie boek mag nie sonder skriftelike verlof van die uitgewer gereproduseer of in enige vorm of langs enige elektroniese of meganiese weg weergegee word nie, hetsy deur fotokopiëring, plaat bandopname, mikrofilm of enige ander stelsel van inligtingsbewaring.


Gedruk deur

Malherbe Uitgewers



Inleiding:


Hierdie lewensreis word voortgesit: gebore in Alexanderbaai, maar-soos dit maar gaan as jy klein is word jy saamgeneem- waarheen het jy geen seggenskap nie en nog minder beheer oor- het. In Upington beland saam met ‘n gesin wat alreeds groot was. Dit was ‘n soort van ontsnappings poging deur my pa.

Met die koms van my verstand en bewus wording van my omgewing het ek my in Upington bevind. Blykbaar was ek in ‘n kar gelaai en weggeneem uit my geboorte omgewing. 
Soos die ligte van bewuswording in my brein aangekom het, en geleidelik stukkie vir stukkie soos dit met die terugdink na vore kom, is daar aanvanklik los brokkies en later meer aaneenlopende stroke van tydslyns gewaarwordinge. Daar is stukkies waar ek met ‘n speelkarretjie in die kerk sit onder banke saamgestel uit houtplanke en baksteen stutte, met sandvloere. Later die stukkie waar ek onthou dat die eerste en vir lank enigste kersgeskenk ‘n ou padrollertjie dinkeytoy was wat - dit staan helder vasgebrand in die geheue- nie as deel van ‘n “kersboom aand’ was nie, maar ek later moes gaan haal by mevrou Dominee en sy dit moes soek en later met ‘n onge-ergte “vat hier” vir my gegee is. Daar is die speelbome wat “naamuitkrap” bome genoem was, daar was die keer wat daar slange op die werf gekry was en ‘n hele klipmuur afgebreek was om alle slange uit te roei. Ook kom brokke voor van skoolbus ry en later die oopmaak van Oranje Noord Laerskool in Sub B met soggens self skool toe kan stap en saam met die kinders wat meer naby aan ons gewoon het. Naskoolse maats kon gemaak word -iets wat nie tevore moontlik was nie.

Daar is die onthou van saans met die tweeling broers al drie op ‘n fiets – ek voor op die “handles”, Kleinman op die dwarsbalk en Ouboet wat trap- na die Dorp drie keer per week vir bokslesse. Daar word onthou van die woon in ‘n buitewyk langs ‘n kanaal waar die water nou en dan leeg getap was en waar paddas uitgehaal is en in die gemeenskaplike kamer in ma se potte gesit word. Die paddas het so geraas saans dat ma agtergekom het waar die potte heen verdwyn het en kinnergatte laat brand het. 


Die toilet was ‘n buitetoilet met nog ‘n nagwa diens. Een van die onthou brokkies is van die bok in die agterplaas wat soms ‘n man gejaag het as jy toilet toe wil gaan, ook van Koos wat altyd begelei moes word en bang vir die donker was. ‘n Gesinsgrappie was Koos wat wou gaan, die donkerte sien en verklaar hy sal maar poep tot gister, maar vanaand gaan hy nie uit nie (Koos het net een tyd geken en dit was gister –nogal, as man daaraan dink, heel besonders, want ‘n kind weet meer van dit wat was af as wat hy hom sal bekommer oor dit wat kom!)

Nog veel ander brokkies van onthou en bewuswording het later aan mekaar gelas begin word soos ek gegroei het, tot dit ‘n aaneenlopende lyn begin word het. Skoolgaan was nooit moeilik nie, Bybelverse leer Sondagoggende voor kerk in die chaos wat 8 kinders bring wat aangetrek en skoongemaak moes word voor daar gery kon word, was wel. Kuier by ouma en oupa in Alheit saam met ma was een van die hoogte punte van die tyd. Met die inkom van gewaarwording van die omgewing het dit ook begin deurskemer in die kinner wêreld dat daar iets soos arm mense en mense met meer voorregte was. Daar was in die groep van kinner vriende wat ‘n swembad by die huis het, wat elk sy eie kamer het, wat sy eie fiets het en kaste vol speelgoed. Tog het dit op die stadium meer ‘n geleentheid gewees om dit saam met die kinners te geniet eerder dat dit met afguns te beskou.

Oupa en Ouma van Pa se kant was ook in die huis met Ouma wat gedurig kla en verwyt en oupa wat so deurmekaar was dat ons hom telkens moes gaan soek het. Daar was ook die broertjie wat een jaar ouer is en blykbaar met geboorte probleme ondervind het sodat hy verstandelik agter geraak het: moes ook opgepas word en het ook weggehol as hy die kans kry met dan die gaan soekery. Vir my was dit ‘n groot probleem. Die twee broers net ouer as die verstandelik vertraagde broer was ‘n tweeling wat als saam gedoen het en nie vir my by wou hê nie, want ek sal natuurlik ‘n laspos wees en als vir ma gaan sê. Die verstandelik vertraagde broer sou, as hy normaal was, die broer wees waarna ek verlang het. Uiteraard kon dit nie en sal dit ook nooit wees nie.

Eensaamheid vir my was later deel van my lewe, al het ek in ‘n groot gesin gewoon. Ek het eendag in ‘n kas weggekruip om te kyk of hulle sal agterkom as ek nie daar is nie: onnodig om te sê dat almal verlig was dat ek nie in die nabyheid is om almal te versondig nie. Daar is nie na my gesoek nie en ek het maar later uit sy kas geklim en met my lewetjie voortgegaan. Kompensasie was toe die broertjie na ‘n inrigting in Howick geneem was en die gesin jaarliks na Durban gegaan het vir drie weke om ma naby hom te bring. Soet bitter tye. Armoede het gesorg dat als selfgemaak moes wees: die kap agterop die bakkie, die tent en al die ander benodighede. Vir my was dit egter iets wat in die onbewustheid van kindwees later eers tot besef gebring was. Nie toe nie. Daar was ‘n brokkie van seksueel bewus word sonder dat ek toe geweet het waaroor dit gaan. Alwyn Burger vertel dat hy by sy ma hulle se kamer ingegaan het en afgekom het op sy pa wat sit en sy ma wat lê –beide sonder klere. Die storie het vasgehaak in my kop sonder dat ek veel daaroor nagedink het. Alwyn se pa het egter op ‘n dag ‘n einde aan die vriendskap gebring toe ek saam met Alwyn pak gekry het oor iets wat nie meer onthou word nie. Wat wel onthou word is dat dit nie so werk nie: as daar rede voor was moes die oom vir pa vertel het en die sal dan slaan. Alwyn-hulle was armer as ons. Die pa was dronk toe dit gebeur het.

Ek het in die tyd van mens word ‘n ervaring gehad wat as skuld gevoel klassifiseer word. In Middelpos was daar twee winkels- die een was van kerkmense (die Gribs), die ander nie. Daar is pertinent aan die kinders opdrag gegee om net by die kerkmense se winkel te koop. Ongelukkig was dit so dat die Gribbe vyebome gehad het en is ek betrap toe ek een of twee vye gepluk het. Weghol het my gat gered, toe. Maar ‘n deur van ewige stryd is ge-open: ek sou nooit daarna weer by Grib se winkel sigarette of wat ek ook al gestuur word om te gaan koop, koop nie. Liewers by die anner winkel, al was dit soms duurder en pa nie kon verstaan waarom daar minder kleingeld was nie. Dit was die begin van ‘n gewaarwording wat later elke keer bo water kom as die gewete van my inwerk op my doen en late. Diep vasgebrand.

Ek het in die tyd ook die waarde van om middelste kind te wees besef: as die groot kinders iets lekkers kon doen waarvoor die kleintjies te klein is, was ek groot. As daar weer voordeel in is om klein te wees, was ek klein. Die besef het tot ander slinkshede gelei wat lewenslank my lewens organisatoriese spel geword het. 

Uiterstes van temperature soos dit in Upington beleef word het ook sy tol geëis in die onthou/bewustword kanale. Soggens moes daar soms in die winter vuur gemaak word op die waterpype buite omdat die water gevries was- dit word onthou. So ook die koue op kaalvoete met Ingram kamfer cream wat aangesmeer word op gebarste hakke en op die bokant van die voete. Vure wat gemaak is as daar vir die bus in die koue gewag moes word met klippe wat in die vuur warm gemaak is en dan met koerant papier toegedraai word en saam skool toe gaan om die hande warm te hou. 

Karretjies was daar nie maar karretjie is gespeel: bakstene het lorries geword as dit aan eenkant hoekig afgekap is. Klippe met die regte vorm is gesoek om as karre te dien. Die klipkar was dan ook sommer padskraper en ongelukke as die klipkarre in mekaar vasry het groot sports gewees.

 Krisis bewust word was daar ook: die vrees as die Oranje afkom en sy walle oorstoot, die patrollie ry van pa dan op die walle om te kyk waar die gevaar van deurbraak die grootste is. Die onthou van landerye wat onder water is, die brug oor die Oranje wat verspoel het en die vreesaanjaendheid van ‘n Oranje in vloed met beeste en boomstompe en die hele Vrystaat se modder water wat see toe gaan.

Ras bewustheid was ook daar. Die kinders van Blikkiesdorp het nou en dan “ Boere julle moere” geroep. Die man en sy maters het nie geweet wat dit beteken nie, maar dit was ‘n teken om die kinners te jaag. Gelukkig het hulle die meeste van die tyd weggehol en net eenkeer van ‘n klein grensoorloggie kan onthou word. Die bandiete het soms langs die pad gewerk en dan het die man-hulle van ma se brood gaan omruil vir die mielies wat die bandiete gekry het etenstyd. Dit het tot vreemde vriendskappe gelei en was die man soms spyt as die bandiete op ander plekke moes werk en skielik nie meer daar was nie.

 Die Upington jare was gemengde jare van swaarkry sonder dat ek daarvan bewust was en goeie tye waarvan ek wel bewust was. Dit was egter die tyd in die groei proses waar brokke van onthou begin saamvloei het in ‘n stroom van bewustheid van mens wees. Selfs die besef dat almal dood sal gaan het ook ingekom toe daar ‘n motorongeluk op die Upington- Kakamas pad was waar ‘n kind van ons skool in dood is. Die ongekunsteldheid van die vyftiger jare het dit as Sondag ontspanning beskou om almal na die ongelukstoneel te neem net om die sleep plekke in die pad en die droë bloedkolle op die teer te gaan aangaap! In my kindergemoed het dit die begin gewees van doodgaan besef en wat dan? Antwoord soek het begin. 

Die lewe het ‘n skielike draai gemaak toe Pa uiteindelik besef het sy droom is nie daar om waar te word nie, die lewe kan beter en sy verantwoordelikheid teenoor gesin is oorheersend: hy het net een opsie. Terug na die arms van Alexanderbaai en die uitkoms wat dit sal bied aan die armoede wat by die deur ingekom het. Ek het nie geweet van die struwelinge en wroeginge wat ma en pa deur moes worstel nie: Sareltjie in Howick aan die anderkant van die land en definitief sal die jaarlikse besoeke nie meer kan nie- inteendeel dit was eers toe ek begin werk het vir hulle vliegkaartjies kon koop, net voor Pa se dood, dat daar weer na Howick gegaan was. Pa is ook eers weg en na amper ‘n jaar die gesin kom haal. Ouma en Oupa is saam met die een broer van Pa na Leipoldville waar hulle tot hul dood gebly het.

As ek oor sy lewe terugdink is daar dele van die Upington dae wat wel goed gevoel het, maar my lewe het werklik eers begin met ‘n soort wedergeboorte toe die ou Fordjie met die klomp kinders in Alexanderbaai aangekom het. Daar was drie kamers waarin die kinders verdeel kon word. Ek het nog altyd kamer gedeel met die tweeling en Koos, maar die tweeling sou Springbok toe na die vakansie en dan is ek alleen met net Koos. Jan het as kleintjie nie sy eie bed gehad nie saans maar ingekruip waar vir hom plek was! Die toilet was in die huis en het ‘n ketting gehad wat jy trek en dan spoel als weg, iewers heen. Daar was die heerlike gevoel van naby die see wees, met sleepmis soggens as jy skool toe gaan. Koue in die winter met weer die erge hitte van die somer was nie meer daar nie. Daar was parkies wat swaaie en glyplanke omsoom met bome. Die woord Port Jackson is aan my woordeskat toegevoeg. Dit het soos vakansie heeljaar gevoel. 

Die ewigdurende Suide wind is nie as ‘n las ervaar nie- dit het selfs die speel moontlikhede vergroot. Die Port Jackson bomelaan aan die windkant van die huise het gesorg dat die wind warrel en sand duintjies vorm teen die splitpole heinings om die huise. Wat kan ‘n kind meer voor vra as om in die sandhope te baljaar tot dit plat gery is- die grootmense het nie gekla daaroor nie. Langs die boomlanings is die mandjies wat Vrydae op die mark gebruik was as voëlwippe omskep om dan voëltjies in te vang, hul koppe af te draai –hierin was ek eerlik geseg niet ‘n ekspert -maar bravade van kind wees het gesorg dat ek my deel van voëltjie-moord gepleeg het- en dan in warm water te ontveer en was daar voëltjie sop gemaak op vuurtjie onder die bome. Daar kan nie onthou word of die sop ooit geëet was. 

Daarna het skoling in ‘n klein laerskooltjie gewees voordat dit voortgeset moes word in Springbok so 150 myl weg. Koshuislewe en verwyderde grootword van ouers het gevolg. So ook die geheime van puberteit maar self moes deur worstel.

Hierdie als is in die eerste boek van die reeks vertel, asook die geweldige omgewing wat Namakwaland is en die se invloede op karakter vorming.

Dis hoe ek groot geword het. Dit is wat my gemaak het wat ek vandag is, dit is my veranderlikes -wat nie meer verander kan word nie.


Anders ken ek nie, en anders sal ek ook nie wou hê nie, al kan ek.


Hoofstuk 1


Student


Die lewenspad is `n pad want dit is ‘n verloop van klein na groot, van jonk na oud, en so was dit ook vir my: 1967 breek aan en die tyd vir verder studeer was daar. My pa het sy les geleer: geleerdheid was volgens hom die enigste ding wat “hulle” nie van jou af kan vat nie: ons moes gaan verder leer. Ook maar gehou by die seuns, en tot by Jan wat ma se laatlammetjie was en moeilik uit die huis gekry was. Net so bietjie afdwaal oor daai mannetjie. Toe hy in matriek kom was dit ook die tyd toe my pa afgetree het in Springbok- ook al moeg gestoei met werk en geld maak om kinders aan die gang te hou. Om nog met Jan te stoei om te gaan leer verder as matriek was maar net `n myl te ver: hy het sy sin gekry en by die Stones in Springbok gaan werk. Ek het ook probeer om hom in die universiteit te kry, maar eiewys het gewen. Jan het saam met ma en pa in hul aftree huis ingetrek. Sonder behoefte vir vrousoek. My ma het vertel dat sy eendag moeg was vir agter hulle twee- dis nou Jan en my pa- skoon te maak en op haar vraag aan hulle: ”as ek nou dood gaan, wie gaan dan agter julle twee aanloop en skoonmaak?” waarop Jan antwoord, “maar pa moet maar vir ons `n nuwe vrou gaan soek!” Die wat vir Jan ken, sal saamstem dis `n waar storie. Hy het darem later jare vrou gekry en sukkel nou met sy eie bloeitjies.


My grootste probleem was nie om uit te werk wat ek wil doen na matriek nie- die was maklik: ek wil universiteit toe. Het ook nie veel nagedink oor wat om te word nie- ek wil dokter word.

Hoe dit gekom het het al in st 7 sy gedagte gekry, en om `n heel simpel rede: Dit was in die Afrikaanse onderwyser se klas waar ek en die man aan die stry geraak het oor ek weet nie meer wat nie, en hy die argument op n arrogante manier afgesluit het met, “as jy eendag ‘n doktorsgraad het kan jy vir my kom vertel dat ek verkeerd is!”

Ek het toe nie geweet wat die verskil is tussen doktor en dokter nie- net laasgenoemde herken aan die blink huis en kar wat dokter Fankie op Springbok het en gesê ek wil ook so wees! Van daai dag af het ek al my fokus gesit op dit wat moet kom- vakkeuses het in st 8 so gewees om hierby in te skakel en my eie psigiese voorbereiding het oor die jare opgebou.

Die grootste hekkie was na die September eksamens waar op daai punte die toelatings keuring was vir die groot woord: MB., ChB. En op `n gemiddelde van 66% kry ek dit en hou toe ook sommer op swot vir die matriek eindeksamen.

Die hoogste hekkie was die ingaan in die nuwe wêreld van buite Namakwaland.



Hoofstuk 2


Stellenbosch en Tygerberg


Ek wil graag die beeld behou van die kaalvoetseuntjie wat hom skielik in die vreemde omgewing van andersgeit bevind, beman net met dit wat hy tot daardie stadium ingeneem het vanuit sy geïsoleerde omgewing van opgroei. Uiteraard moet mens nou hier bietjie kaf van koring skei en die harde werklikheid sy gang laat gaan.

Toe my pa my die dag voor die koshuis in Stellenbosch aflaai het ek nie sterre in die oë gehad met drome van hoe ek nou konsuis eendag die wêreld gaan verlos en alle oplossings in pag het nie. Ek was skytbang.

Die koshuis keuse was onder die invloed van meneer Willie Theron wat so op die hoek in die koshuisgang sy kamer gehad het: hy het nooit vir ons klas gegee nie, maar sy méns mens wees het vir my baie beteken as raadgewer en rigtinggewer in matriek. Hy was van Huis Marais en dit het soos `n lekker familie koshuis geklink en onder sy aanbeveling en ook sy verwysing het ek daar beland.

Ek weet nie hoe dit vandag gaan nie, maar ek kan die instap in die koshuis as ongeveer hel beskryf, daai dag in Januarie 1968. Met pa nog by was die huis inwoners pelle. Jou koffer en goed is help dra kamer toe, jy is vriendelik menslik ontvang en gehelp: geen moeite was te groot nie- en meneertjie wat skaars MB. ChB. kon uitspreek het sommer vertel hoe tuis hy voel. Maar toe pa die Ford Transitjie inklim en wegry, was man skielik alleen en sommer dadelik in die kak.

Eerste obstruksie was die gloeilamp in die kamer wat nie daar was nie- ek stap toe na die meneer wat homself as die “primarius” voorgestel het se sitkamer- “meneer, as hy enige probleem het moet hy nie huiwer om na my toe te kom nie, ek sal als doen”. Ek wil nou nie die sensitiewe leser te veel belas nie, maar stel jou voor: Die mannetjie met sy nuwe paar skoene, sy enigste langbroek, en sy nuwe hemp wat te groot is, klop aan die deur- en met die oopmaak sit daar so 6 manne in die sitkamer. Almal bebaard. Almal de moer in vir my! Sodra jy iets wil sê skree almal op jou. Jy word alle name van elk gegee op `n redelike vinnige manier en dan moet jy hulle dadelik herhaal- en dit met `n voortdurende in die rede val. Ek sal maar net sê ek is na so 30 minute- gelukkig het `n ander eerstejaar opgedaag met sy ma wat sy klere regtrek en koek om hom en dié het na `n groter prooi gelyk as die klein stront wat so snaaks praat. Is terug kamer toe sonder die gloeilamp- skoon vergeet met al die strooi wat ek daar gaan soek het!

Dit het `n week van hel ingelui- die doopvlag moes salueer word met `n bebaarde vent wat jou voortdurend wegjaag omdat jy konsuis die ding nie goed genoeg salueer nie, die klasse mag net in `n pak klere bygewoon word met `n vetertjie as das, die klasse was vol vreemdelinge wat almal slim en sofistikeer gelyk het, die wêreld was groen en daar is water wat uit die lug val. Ons het ook reën gehad, maar die water val en val en hou nie op nie. Daar is in die algemeen alles probeer om jou nou rêrig klein en nietig te laat voel: asof dit nie was dat jy klein genoeg gevoel het tussen al die dinge nie. Die enigste ding wat gehelp het, is dat ek kon boks vir die koshuis se eerstejaar byeenkoms en gewen het- dit het tydelike hulp gegee, en saam hiermee het die grootste eerstejaar poepol my kamermaat gewees en al die aandag na hom toe getrek. Hy het ook net tot Junie uitgehou en is vervang deur `n ander wat ook net twee maande gehou het. Hier het ek geleer om onder die radar te bly.

Die swoeg om kennis in die kop te kry was sekondêr en ek weet nou nog nie hoe ek deurgekom het nie: ook maar net-net. Jy het 50% nodig- 50% is deur, 51% is los deur, en 52% is mors met punte. Die eerstejaar was aanpas, alleen wees, selfs huis toe verlang, verlang na die liefde wat met groot onsekerheid in st 10 agtergelaat is, en die kuiertjies by twee broers wat in hul laaste jaar was en in Coetzenburg se plaashuis gebly het en in die rugbykroeg gewerk het.

Die tweede jaar was aan almal gesê om die moeilikste te wees, en was ook. Ook maar met 50’s deurgeskuur- was so oortuig dat ek die her-eksamens sal moet kom skryf, dat ek boeke huis toe geneem het.

In die eerste twee jaar was daar iets wat vandag nie in Suid-Afrika meer gedoen word nie- miskien net so bietjie kennis hieroor uitruil. Alexanderbaai is meer as 500 km van Stellenbosch. Om daar te kom is daar openbare vervoer wat insluit: trein tot Bitterfontein -jy kry die in die Kaap-, dan met die halfbus/halflorrie van Jowels na Springbok en vandaar is dit Godsgenade of met ‘n “lift” huis toe. Om die trippie vier keer per jaar te doen is onmoontlik, dus net lang vakansies huis toe. Soms kon man met die “base” se kinders wat in die Kaap skoolgaan se bus saamry op en af. Maar oorwegend kon man net op een manier huis toe: “hike” het ons dit genoem- goeie Afrikaans sal dit as duimgooi beskryf.

Daarvoor het jy die Matie-baadjie nodig. Bedags staan jy langs die pad en wag in die bloedige son met die baadjie aan dat almal die sielige student kan sien en oplaai as hy plek het. Saans draai jy die baadjie om- sy moue is wit binne en wys op in die donkerte. Menige male is man gestrand deur afgelaai te gewees tussen niks en nêrens by `n afdraaipad. Menige male was dit nodig om langs pad slaapplek te kry en die enigste gratis plek was die polisiestasie se tronksel- ons kon toe nog na die veilige hawe gaan en vra om slaapplek en het darem in ‘n oopgesluite sel jou lêplek gekry. Soms selfs koffie en iets te ete. Dinge wat ek dink nie vandag meer kan nie.

Van die derde jaar af was ons na Tygerberg hospital, of toe nog eers Karl Bremer hospital, verban met inwoning in `n gemengde koshuis vir alle mediese en adjuvante student, Huis Franci van Zijl. Daar alles geleer oor brug-speel, saam met ander manne- het nou begin mak raak in die nuwe omgewing en selfs `n gemaksone begin skep- Bloubergstrand toe gery en geparty. Die verligting van die deurkom van die “moeilike” tweede jaar het gelei dat ek als gedop het- so erg dat ek nie een vak eers kon gaan her nie! Die boek sal deur kinders ook gelees word en ek laat maar al die stories van daai “eerste” derdejaar uit. Kom ons vergeet van hom –saai om `n man so te sien duik van hoogtes wat eintlik nie daar was nie!


Die omkeer in my lewe het sommer vroeg in my tweede derdejaar begin: die ontvangs van die nuwe inkommers het ingesluit dat ons `n braai het in die Port Jacksons voor die koshuis- die sports wat ons “oumanne” gehad het- dis hoekom ons “herhalers” geword het- was om voor die vleis en voor die vuur kole maak gaar te wees en oor die vuur te spring. Ek kan een man onthou wat oor gekom het maar die volgende dag nie kon verstaan waarom sy pols so gebrand was nie: hy het terug geval in die vuur en ons redders het hom darem betyds gesien en uitgehaal. Maar op daai eerste dag van die “verwelkoming” van die nuwelinge het ek my teen `n muur vasgeloop in die vorm van `n -toe nog- skaam rooikoppie wat in haar blou Fisioterapie pakkie daar rond geloop het met sulke mooi ronde….wag, ek is nog getroud na 45 jaar met haar en beter hier nie te veel aan die jongmans oë se raaksiene insig gaan soek nie. Laat ek dit saggies stel: Danette het in my lewe gekom, en gebly. En sy het nie eens gesien hoe pragtig ek oor die vuur gespring het nie!

Die res is geskiedenis- ek is deur van daar af onder bewakende oë, en het nie weer eenkeer eens `n her gekry nie. “Heel braaf geworden”, soos hulle in Nederlands sal stel. Saam-saam tot sy graad gekry het- beste in haar klas natuurlik,- en getroud teen haar pa se sin in my vyfde jaar se middel in 1973. Laat ek dit nou stel: sonder haar sou ek waarskynlik nou nog oor vure probeer spring het, en waarskynlik die ook nie meer so suksesvol nie. Sy is my mevrou Google en wat sy aan my sien, sal sy net weet.

Die grootword in geneeskunde en as mens kan die beste definieer word in die woorde van een van ons professors wat beweer het `n mediese student word eers mens na sy vierde jaar. Daarna groei ons in die vak om dan uiteindelik uitgespoeg te word na 6 jaar voltydse studie: nie volleerd nie, maar gereed om dan jou lewe aan te pak en lewenslank te leer en studeer in dit wat jy doen –mense genees.

Frases van wat as student ervaar is en wat in die opgroei in die vak gebeur het, sal stuk-stuk ingewerk word. Die belangrike vir dié boek is om die invloede van die vroeë jeugjare as boorling ver van als op dit wat uiteindelik uitgedraai het. Hierdie wisselwerking sal uitgelig word as die situasie hom voordoen.


Ek sal so stuk-stuk my ou vervelige lewe verder meeneem in die verhaal.


My tydelike inwonerskap as Alexanderbaai inwoner het met `n al hoe laer tempo geskied- basies weg vir periodes van 6 maande en dan rukkies tussen-in tuis. My ma het my later gewaarsku dat ek nie moet durf waag om die anties te vra oor hoe dit gaan nie, want dan vertel hulle al hul kwale en wil gratis advies van die mediese student wat eintlik net leer dink het en nie met kennis vollaai is nie. Progressief is die man uit die Baai onttrek in `n nuwe wêreld wat oopgegaan het ver weg van die Baai en Namakwaland, maar die Baai en Namakwaland het nooit hul kloue uit die man onttrek nie: dit het altyd deel gebly van my, ondanks die fisiese afstand wat plaasgevind het.




Interlude


Alexanderbaai 2018:

Alexanderbaai van die sestiger en later jare bestaan nie meer nie- die eerste groot gebeurtenis was die dag toe die draadskeiding tussen die twee kampe geknip word- dit was die inleiding tot die ommeswaai van weg van die hele bestaan en omgewing van die sestiger jare: onomkeerbaar vir altyd. Daarna het die politiekery ingekom met eers ‘n “privatisering” van die Baai- die “god”, staat, het verdwyn- en daarna `n poging om die dorp en myn “terug te gee” aan die mense wat konsuis eerste daar gewoon het. Oor laaste wil ek my nie uitlaat nie- het my eie opinies- om die eenvoudige rede dat die uwe toe al `n paar dekades nie meer deel was van die Baai omgewing nie. Hierdie fase van die geskiedenis van Alexanderbaai is nog steeds besig om homself te skryf.


Mei 1974

Dit kon `n maand vroeër of later ook gewees het. Die naweek het saam geval met `n afnaweek vir die koshuis kinders in Springbok. Of dit nou so beplan was sal mens nie weet nie, maar die wat later terugdink oor die gebeure van die naweek is egter dankbaar dat hulle deel kon wees van die stukkie geskiedenis –`n stukkie drama wat verbygegaan het vir ander buite die dorp, maar vir die dorpsmense sou die wederkoms waarskynlik net so `n aardskuddende gebeurtenis wees. Die afstap van die bus op die Vrydagmiddag was nie soos al die ander van vorige jare nie: daar was iets in die lug toe die kinders tuiskom. Die drade gaan geknip word en daar sal oor veld gestap kan word waar dit 24 uur gelede doodsonde sou wees as daar gestap word. Byna `n kleed repetisie vir die afbreek van die Berlynse muur wat nog byna twee dekades in die toekoms gelê het.

Hierdie verandering is egter lank voor die tyd met kennisgewings bekend gemaak wat nie geglo sou word nie. “Wil dit nog met my eie oë sien voor ek dit sal glo.”

Vroeg het almal al teen die draad gestaan- grootmense in hul harte ook weer kinders. Die draad word geknip- ek weet nie of daar toesprake en seremonie was nie, maar my verbeelding wat my mense ken, sou amper dit wil hê. Daar was geen verbindingspad direk na die buitekamp- van nou af sal dit as die Noorde bekend staan- en die binnekamp – die sal Suide geherdoop word: beide doop aksies sonder seremonie. Al was ek nie daar nie kan ek dit sien: die padskraper wat die sandveld `n “pad” skraap met almal wat beweeg van binne na buite en van buite na binne. Dis veral die binne na buite gedrang wat die grootste sou wees, want almal wat karre het wil dit by sy huis geparkeer sien. Familie wat dekades lank net by mekaar kon “kuier” as daar oornag gereël word kan nou net langs kom vir ‘n koppie koffie, of gesels. Om dan weer later na eie huis te gaan. Net oorlat dit kan. Soos normale familie en vriende dit doen.


Kom ons gee beeld aan die mense van daardie tyd:

Kobus E:

As ek reg onthou was dit iewers in 1974. Ek en Don was toe in st 8 en by die huis vir 'n tuisnaweek .Die Saterdagoggend het almal in die binnekamp 'n kennisgewing gekry om te verduidelik wat aan gaan. Ek wens iemand kan daai kennisgewing loop soek en vir ons hier oplaai. Vroegoggend het hulle begin om die pad te maak tussen die Binnekamp en die Buitekamp. Party mense was so haastig om hulle karre by hulle huise te kry hulle het sommer om die padskraper deur die veld gery!


Tina W:

31 Mei 1974 daar bo by die draai van Merenskylaan waar Pottie gebly het. Dit was koshuisnaweek ek was in Matriek. Mnr Popo Smit het mos langs ons in Merenskylaan gebly en sy kar was blykbaar die eerste kar binne.

Julle, en hoe snaaks dit was vir ons Binnekampers om hard en sag deurmekaar in een tas te pak want ons het mos nie meer die X-strale gegaan nie! Dit was soos `n nuwe wêreld en die einde van "ek ruil dit vir niks nie" era”


Erica K:

wat van die karre wat omgegooi is!!!Sal dit nooit vergeet nie. Ja dit was 'n langnaweek en ons was 'UIT' en toe ons by een hek kom sê hulle ons kan maar met ons kar tot voor die huis ry. Nodeloos om te sê...ons het gedink dis 'n grap. Mense dit was 'n gesig om te sien!!!!!En soos julle kan onthou ons strate was nou nie juis vir verkeer aangelê nie!!! Niemand was veilig nie!!!!!


Annette B:

Tina, ek pak tot vandag toe nog my tas so. Eers al die sagte goed en die skoene en belde bo-op. Net in geval iemand dalk my tas wil x-ray! Ek onthou die dag toe die drade weggevat is. My pa het net so stil gesit en gesê: Nou sal dit nooit weer dieselfde wees nie. Ons was so opgewonde, ons het nie geworry oor hoe dit gaan wees nie. Hy wou ook nie ons kar gaan haal nie. Dit was goed toe dit daar buite gestaan het, hoekom wil ons nou oral ry?”


Poppie L:

Ons het net die melk briefie klaar gelees daardie Saterdag oggend en die volgende oomblik staan my pa se broer wat in die buitekamp gebly het, oom Koos Visagie in ons kombuis. Natuurlik was ons stom geslaan want ons het nog die nuus op die briefie probeer verwerk. Oompie Koos het vertel hoe staan die mense weerskante van die draad aan die bokant van Merensky laan en hulle weet nie mag hul oor die draad in en uit klim nie. Wat 'n dag.”


Elbie K

My Pa Jan het voor tyd geweet maar die geheim gehou tot na huis Godsdiens die oggend. Ons het almal nog so op ons knieë langs die bed gestaan en toe hy AMEN sê, toe sê hy ons. Maar kyk, ek onthou elke sekonde van daai gevoel. Betsie het in Buitekamp gebly en ek het dadelik plan gemaak om daar uit te kom. ha ha ha ha Erika was dit nie chaos met die karre en die jaery en mense se totale opgewondenheid nie. Dit was amazing


Magda C:

ja ek was nog in die laerskool en die opgewonde was so groot dat ons vir die dag in die kar gesit het. ja nee, dit was lekker dae daai tyd ons was soos n groot familie in die binnekamp”


Steenkamp V:

En skielik het jou ma snaakse goed begin sê, soos: "Moenie in die straat speel nie" en "Kyk voor jy oor die pad loop."


Tina W:

Oom Ossie Jan het mos nie lekker bestuur nie so as hy aangery kom en jy waai met die linkerhand vir om dan haal hy sy linkerhand van die stuur en waai. En as jy regs waai haal hy die regterhand af en waai.

So is ek net mooi besig om te leer fietsry toe die oom van vooraf aangery kom. Fanie en nog iemand waai toe links en regs vir die oom en hy haal natuurlik altwee hande van die stuurwiel om terug te waai en pyl reg op my af! Ek beland natuurlik toe fiets en al in die watervoor en het nooit weer fiets gery nie!! Dit was nog in die Binnekamp dae, was nog in Laerskool, die oom het met die Proteksie Land Rover gery!!


Steenkamp V:

My pa het gesê die mense is mal. die malmokkie gaan hulle karre opvreet. Hy het ons kar eers gaan haal nadat die nuwe garages gebou is. Ek dink hy was reg, want later was daar 'n hele paar geroeste wrakke.”

Anet G: 





Pieter Grobbelaar( beeswagter) sê dit was die Paasnaweek van 1974. Oom Thys Rossouw het die draad geknip. Beeswagter was die eerste wat met sy bakkie deur gery het. Rooi Hottie was die padskraper drywer.”


Tina W:

Bietjie agtergrond. Die myn gedeelte is toe toegespan, die Binne Poskantoor is omskep in n besoekpunt wat wat net deur die Swart werkers gebruik is en later verval het. Die buite garages is behou totdat garages so naby as moontlik aan die rye huise gebou is en vandag nog so in gebruik is. Die Binnekamp se skool het mans enkelkwartiere geword wat baie gepas "Ou Skool" genoem is. Snaaks genoeg is baie van die plekke nog in die Suide......hospitaal, Kerk, Bottelstoor.....”


Deon Mostert:

Daar was nie 'n seremonie gewees nie, ek onthou dat oom Hannetjie Hanekom so 'n maand voor die tyd agter die skool 'n draad begin span het en ons kon nie verstaan hoekom nie. Ons het hom uitgevra, maar ek dink nie hy het ook geweet hoekom hy dit doen nie. Sover ek weet is die draad die 31 Mei 1974 geknip, ek was in std 5 gewees .Een van die eerste dinge wat ons gedoen het was om in die rivier te gaan visvang (dit was natuurlik nadat ons onsself vergaap het aan al die karre)”.

Johlene C:

Ek was matriek 'n tuisnaweek toe die drade geknip is. Eerste wat ons gedoen het was om in my pa se Holden stasiewa te klim en het die binnekamp gaan plat ry, elke straat, om die club, kerk en mensie en toe by my ma se broer oom Kerneels en tannie Martha Bontkoei (Mostert) te gaan koffie drink. Daarna was die kuiery met ou vriende en familie oor en weer n nuwigheid en later asof daar nooit enige vorm van skeiding was nie! Maar dis verseker n goeie stuk geskiedenis.”

Kom ons los die opwinding van hierdie dag en draai die horlosie so ‘n paar draaie aan: en toe kom die “nuwe Suid Afrika”

Bettie N:

Om die werklike prentjie te kry, moet alle gebeure in aanmerking geneem word.

Die GLOBALE probleem het ontstaan - nie met die geslaagde Land Claim nie, maar dat the Powers to Be nie ingegryp het toe dit moes gebeur het nie. Selfs nadat die destydse Alexkor oorgegaan het na Business Units, het die plase daarin geslaag om tot 'n mate winste te toon - en is cross-subsidizing uitfaseer.

Die fokop het ontstaan toe individue in besluitnemingsposisies geplaas is wat nie 'n idee het waaroor dit gegaan het nie, en bestuurders wat kundig was, verwyder is. Soos bv. die melkerybestuurder wat die melkproduksie opgestoot en gestabiliseer het en omdat die prosesseerder agv onkundigheid nie kon voorbly om kaas te produseer nie - word die bestuurder verwyder. Daarna het ek persoonlik die Dierebeskerming gekontak oor die kondisie van die koeie - en daar was amper 'n kriminele saak. Dis nie 'n storie nie - dis in een van die jaarverslae.

Toe ek persoonlik afkom op 'n lemoen-oes wat in een van die trenches gegooi was, toe was die antwoord dat hulle nie bemarking kon verseker nie - en wat is my probleem nou eintlik - dis bio-afbreekbaar.

Koos het hoeveel skorsie-oeste moes weggooi omdat net NIEMAND transport gereël het wat dit moes doen nie. Ekself was deel van die tamatie-projek op Sanddrift wat van die eerste dag winsgewend was en ongelukkig toe 'n "blanke" alkoholis daar land - in plaas om my toe te laat om die ou te fire (2 jaar lank gesukkel) - word ek toe getarget en op politiese gronde verwyder.

Volstruise het gevrek - nie van siekte nie- van honger. Dan bel Jos my want hy was nie toegelaat om klagtes in te dien nie - soveel so dat ek weer die Dierebeskermingsvereniging moes bel - dat volstruise onverwerkte gras of lusern kry - takke steek deur volstruis se keel! Aikona!! Die beste en mees modernste broei masjiene - en wie het die gekoop? Een van die vorige bestuurders teen die grootste winskoop ooit!!!! laat ek liefs ophou want dit maak die seer van die gemeenskap (Richtersveld) soveel meer voelbaar wat ook hulle hande afgekap. Hulle het darem so een of twee oorwinninkies behaal om maar net weer gekonfronteer te word met dieselle belhamels in die besluitnemingsstoele.”





Alexanderbaai 2013:

Ek sit en kyk die ou foto's - dis soos ek die Baai onthou: ietwat vervalle, maar nog leefbaar. Daar was seker na my tyd (tot 1969) opknap van die omgewing gewees, want dis maar ons woonplek gewees: verwaaid en stowwerig, split poles om alles, met hier en daar een skeeflos en of gebreek, stofstrate met tussen die huise kaal kolle met geen plante wat kan groei nie, en as daar iets durf waag om te groei is daar 'n sandstrook gewaai aan die noorde kant.


Purchase this book or download sample versions for your ebook reader.
(Pages 1-20 show above.)